Ons is besig om ons webtuiste te herbou en na 'n ander diensverskaffer te verskuif.
Ons vra om verskoning vir enige ongerief. Ons hoop om so spoedig moontlik weer operasioneel te wees. Die "Kontak Ons" skakel hiebo is volledig in werking.
Ferdie en Elise Jansen doen sedert Januarie 1975 genealogiese navorsing in hulle vrye tyd. Hierdie webwerf is gebou rondom ‘n raamwerk van genealogiese materiaal wat oor meer as vyf-en-dertig jaar ingesamel is.
Die webwerf is egter lank nie meer net die eindresultaat van Ferdie en Elise se navorsing oor hulle eie tak van die familie nie. Vanuit hul beskeie persoonlike familiewerf het dit vanaf 2004 gegroei tot ‘n ware familietuiste vir al stamvader Zirke Jansen se afstammelinge. In sy huidige formaat is die webtuiste ‘n gesamentlike poging van verskeie outeurs met verbintenisse aan die Suid-Afrikaanse Jansenfamilie.
Alhoewel dit soms beter is om nie name te noem nie, is dit tog nodig om hier erkenning te gee aan persone wat buitengewone bydraes gelewer het, in alfabetiese volgorde:
· Clemens, Michael. Neustadtgödens, Duitsland
· Davis, Susan. Dallas, Texas
· Jansen, Fred. Molopolole, Botswana
· Jansen, Johan. Strand, Suid-Afrika
· Jansen, Stander. Napier, Suid-Afrika
· Laing, Pieta. Sydney, Australië
· Wolvaardt, Gerhard. Pretoria, Suid-Afrika
Ferdie is bewus van slegs een ander publikasie wat spesifiek gerig is op die Jansen-familie van Suid-Afrika. Dit is die outobiografie van Ds. Johannes Christoffel (Johan) Jansen van die Strand, naby Kaapstad. Hierdie massale werk bevat ‘n skatkis van genealogiese inligting vanuit Johan se tak van die familie. Johan het sy familie-register gedurende 2011 bygewerk en ryklik geïllustreer met foto’s. Ferdie dra graag spesiale dank oor aan Johan en sy eggenote Ena, vir hulle besondere bydrae tot hierdie webwerf.
’n Uitsonderlike bydrae is vanaf Michael Clemens, Ferdie se medewerker in Neustadtgödens, Oos-Friesland, ontvang. Michael was verantwoordelik vir ’n dramatiese deurbraak deurdat hy daarin geslaag het om die besonderhede van stamvader Zirke Jansen se ouers in Oos-Friesland op te spoor. Hiervolgens kan die Jansenfamilie van Suid-Afrika nou sonder enige twyfel daarop aanspraak maak dat hulle van Duitse herkoms is. Besondere dank word dus ook aan Michael oorgedra vir sy bydrae tot die nasionale Jansenregister en hierdie webtuiste.
Alle Suid-Afrikaanse Jansens en Jansen-afstammelinge is welkom om hulle eie familiebesonderhede aan te bied vir opname in die nasionale Jansen-register. Kontak asseblief vir Ferdie met vrymoedigheid sodat die nodige vorm en vraelys aan u gestuur kan word.
Die inligting op hierdie webtuiste mag nie sonder toestemming gekopieer of vir enige kommersiële doeleindes aangewend word nie.