Die landstreek van Oos-Friesland waar Zirke Jansen, die Suid-Afrikaanse Jansen stamvader vandaan kom, het in 1744 deel van die Koninkryk van Pruise geword. Pruise is toe regeer deur Koning Frederik II, ‘n oorlogsugtige heerser wat ‘n weermag van 80 000 soldate van sy vader, Koning Frederik Willem I, geërf het.
Alhoewel Zirke Jansen ‘n Fries was, was hy dus inderwaarheid 'n burger van die Pruisiese Koninkryk onder Frederik II toe hy op 21-jarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis het.
Pruise het in 1871 opgehou om as staat te bestaan. Duitsland is in daardie jaar staatkundig verenig en die Pruisiese Koning het terselfdertyd die nuwe Duitse Keiser geword. Terselfdertyd het die ou Koninklike volkslied van Pruise die volkslied van die verenigde Duitsland geword. Hierdie volkslied was in gebruik tot ‘n aantal jare na die end van die Eerste Wêreldoorlog toe die Duitse monargie beïndig is. Net soos baie ander volksliedere van die tyd in Europa, was "Heil Dir im Siegerkranz" nooit amptelik as ‘n volkslied geproklameer nie. Dit was egter die volkslied wat die algemeenste in gebruik was en was die naaste aan ‘n nasionale volkslied wat Duitsland in daardie tyd gehad het.
Die ou Koninklike Volkslied van Pruise had presies dieselfde melodie wat die Engelse later vir hulle volkslied, met gewysigde woorde, aangeneem het.