
In ‘n vorige hoofstuk is genoem dat die klein dorpie Neustadtgödens, naby die teenswoordige Wilhelmshaven aan die Noord-Duitse kus, bekend gestaan het as “Die Kerkryke Plek”. Die periode net na die Dertigjarige Oorlog is spesifiek gekenmerk deur heropbou en herstel van die littekens wat die oorlog op die land en sy mense gelaat het. Die periode tussen 1690 en 1740 is terselfdertyd ook gekenmerk deur ‘n besondere toename in godsdienstige en religieuse aktiwiteite, veral in Oos-Friesland.
In die kort bestek van slegs 50 jaar is vier kerkgeboue van verskillende denominasies in Neustadtgödens opgerig. Die eerste was die kerkgebou van die Evangelies Lutherse Kerk in 1695. Die kerktoring, ‘n welbekende baken in die dorp, is in 1714 bygevoeg. Die ou begraafplaas is agter die kerk op die kerkgronde geleë.
Die volgende groep om hul kerkgebou op te rig was die Evangelies Hervormde Kerk in 1715. Die toring met sy kenmerkende daknok en torinkies en koepel het tot in die middel van die twintigste eeu behoue gebly. Die kerk het as ‘n plek van aanbidding gedien tot kort voor die tweede wêreldoorlog toe dit aan ‘n privaatpersoon verkoop is. Die gebou is later in wooneenhede omskep.
Die Katolieke het hulle St. Joseph’s Kerk in 1716 gebou. Hierdie was die eerste Katolieke kerkgebou wat in Oos-Friesland opgerig is na die Hervorming. Die kerkgebou is steeds in gebruik en kerkdienste word tot vandag daar gehou.
Die Mennoniete was volgende om hul plek van aanbidding te bou. Dit was in 1741 en word as die hoogtepunt van die gemeente se bestaan beskou. Die gemeente se getalle het geleidelik begin daal en die laaste diens is in 1841 in die kerkgebou gehou. Die gebou het in onbruik geraak en spoedig vervalle geraak. Tydens die oorloë van 1870/71 en 1914/18 is dit as ‘n militêre voorrade depot gebruik. Vanaf 1934 is dit eers as ‘n gimnasium gebruik en toe as brandweerstasie. Vanaf 1958 het die Lutherse Kerk die gebou as Begrafnis Kapel begin gebruik.
Die vyfde en laaste kerk om gebou te word was die Joodse Sinagoge in 1852. Teen omstreeks 1860 was meer as ‘n kwart van Neustadtgödens se bevolking Joods. Jode van so ver as Wilhelmshaven het die sinagoge tot in 1902 as ‘n plek van aanbidding gebruik. Die geskiedenis van Duitsland het egter nie vir Neustadtgödens misgekyk nie. Joodse Kerkdienste moes noodgedwonge in 1936 beëindig word. Die sinagoge het gelukkig die veelbesproke “crystal night” van die nazis in 1938 vrygespring – die enigste in Oos-Friesland wat die verwoesting vrygespring het. Die sinagoge is hierna in ‘n verf-fabriek omskep, maar is kort daarna gesluit weens die risiko van ‘n ontploffing in die historiese Kerkstraat in die dorp. Die meeste van die Joodse burgers is in die daaropvolgende jare ontvoer en na die konsentrasiekampe gestuur. Sedert 1988 word die gebou vir wisselende kunsuitstallings gebruik.
Die vyf Kerke van Neustadtgödens: (Kloksgewys van bo links) Die Evangelies Lutherse Kerk (1695), die St. Joseph’s Katolieke Kerk (1716), die Evangelies Hervormde Kerk (1715), die Joodse Sinagoge (1852), en die Mennonitiese Kerk (1741).
Te midde van al hierdie godsdienstige aktiwiteite het die mense van Neustadtgödens hul gewone gang gegaan. Die boere het hul produkte op die dorpsmark verkoop; die vishandelaar het met ywer vars vis ingevoer en aan die dorpsmense verkoop; die meulenaar het permanent vars gemaalde meel beskikbaar gehad en die kruidenier het ‘n hele spektrum van ware aan die huisvrouens van die dorp gebied. Dan was daar natuurlik die belangrikste bedryf van die dorp: materiaal, wat plaaslik met die hand geweef is, was veral bekend vir die besondere gehalte daarvan. Een van die beroepswewers van Neustadtgödens, Jacob Harms Frese, was getroud met Anna Margaretha Jansen, die dogter van Cornelius Jansen, ‘n kleremaker. Anna was Cornelius en Trintke (Friesies vir Carharina) Jansen se tweede kind. Hul oudste, ‘n seun Zirke, se geboortedatum is nie presies bekend nie, maar moes iewers tussen 24 Mei 1730 en 23 Mei 1731 gewees het volgens sekere dokumente van die Lutherse kerk wat gedurende 2005 opgespoor is.
Die Jansen-gesin was Lutherse Protestante en lidmate van die Lutherse gemeente op Neustadtgödens. Lede van die gesin is na hul afsterwe vanuit hierdie kerk begrawe en Cornelius self is vir ‘n tweede keer, nadat Trintke oorlede is, met Margaretha Siefken vanuit dieselfde gemeente getroud. Trintke is op 17 April 1742 oorlede en is natuurlik ook vanuit die gemeente begrawe. Die gesin was daad-Christene, en het die kerk vir meer as net godsdienstige rituele gebruik: Zirke is op 23 Mei 1747 as sestienjarige seun in die Lutherse gemeente as lidmaat aangeneem, ‘n aksie wat op daardie tydstip in die geskiedenis met erns bejeën is, en bewys lewer van die Jansen familie se godsdienstigheid.
Zirke Jansen was elf jaar oud, en sy twee sussies Anna Margaretha en Eile Catharina, onderskeidelik drie en vyf toe hul moeder in April 1742 oorlede is. Die ouderdomme van die kleintjies kan moontlik die rede wees waarom Cornelius slegs sewe maande na sy vrou se oorlye weer getroud is.
Dit was in die laat winter van 1752 toe ‘n dramatiese gebeurtenis in die gesin se bestaan sou plaasvind. Zirke was mondig en die groot stroom van sy jong landgenote wat hul vaderland verlaat het op soek na ‘n beter toekoms elders, het waarskynlik ook die wanderlust in Zirke wakker gemaak. Omstandighede was gunstig vir die jong man van Neustadtgödens om self sy heil elders te gaan soek. Sou die reis van sy lewe in sy vaderland plaasvind naby sy ouerhuis en binne sy kulturele erfenis, of elders in ‘n nuwe omgewing? Al die stories oor die donker Afrika-kontinent en die mistieke Ooste sou hom heel waarskynlik erg fassineer en sy jeugdige avontuurlustigheid tot die uiterste prikkel.
Die faktore wat hy teen mekaar sou opweeg ten einde die finale besluit te neem, sou in die eerste instansie vanuit sy direkte lewensruimte geneem word. Die opbou tot hierdie scenario het lank voor sy geboorte reeds begin. Die gevolge van die bou van die Ellenser Dam was sonder twyfel een van die primêre aanleidende oorsake. Die ontworteling en die verandering in lewenswyse wat die dorpenaars as gevolg van die bou van die dam moes ondergaan sou beslis ‘n direkte invloed op hul daaglikse bestaan hê. Hul afhanklikheid van die see en die gevolglike bestaansmetodiek wat oor eeue gevestig was, sou beslis nie volledig vervang kon word in die kort periode wat verloop het tussen die bou van die dam en Zirke se geboorte nie. Enige teenspoed sou op die straathoeke, op die mark of dorpsplein, dadelik aan die bou van die dam, daardie monster wat van vissers en ‘n seevarende burgery wewers, snyers en handelaars gemaak het, toegeskryf word. Hierdie gesprekke sou sekerlik ‘n blywende indruk op die gemoed van die jong Zirke gelaat het.
Net asof dit nie genoeg was nie, en net ‘n skrale vyf jaar later, het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Hierdie oorlog sou sonder twyfel ‘n verwoestende uitwerking op die lewens en daaglikse bestaan van die dorpenaars hê. Vir die volgende dertig jaar sou Oos-Friesland die een militêre besetting na die ander ervaar. Dit is opgeteken dat huursoldate, wat op een tydstip gedurende die oorlog in Oos-Friesland deur die Hollanders vasgekeer was, al die beeste in die landstreek doodgemaak het. Hierdie spesifieke voorval het aanleiding gegee tot uiterste armoede en gevolglike massa emigrasie, veral na Amerika.
Kort na die beëindiging van die oorlog het ‘n ander fundamentele verandering plaasgevind wat ‘n dramatiese invloed op die daaglikse bestaan van die inwoners van Neustadtgödens sou hê. Onder die bepalings van die ooreenkomste en verdrae wat die einde van die oorlog beskryf het, is die eeue oue heerskappy en regering van die Graafskappe en veral van die Cirksenas beëindig. So ‘n fundamentele politieke verandering sou sonder meer verandering in die landswette beteken. Dit sou noodwendig verandering in die bevolking se lewenswyse tesame met gevolglike onsekerheid oor die toekoms bewerkstellig.
Alhoewel dit nie aanvanklik enige invloed gehad het op die daaglikse lewens van die Oos-Friesiese bevolking van die vroeë agtiende eeu nie, sou die gebeurtenisse in Pruise en veral Oos-Pruise spoedig baie na aan die deur van Oos-Friesland kom. Die besetting in 1744 van Oos-Friesland deur Frederik die Grote het, vir die soveelste keer, fundamentele verandering van die landswette en gevolglik die lewenswyse van die bevolking meegebring.
Onsekerheid oor hul toekoms sou dus in hierdie tydvak voorop in die inwoners se gedagtes en gesprekke wees. Die Jansen’s van Neustadtödens se vaderland was nou deel van Pruise en die Heilige Romeinse Ryk. Hulle het geen keuse gehad in hierdie nasionaliteits- en identiteitsverandering nie. Hulle was nou Duitsers. En hierdie was ‘n Duitsland met regeerders wat besig was om voor te berei vir oorlog. Massa werwing vir die oorlogspoging het plaasgevind in al die gebiede wat aan Pruise behoort het, insluitend Oos-Friesland.
Oor die beste gedeelte van ‘n honderd-en twintig jaar vandat die bou van die Ellenser Dam begin het om die mense van Neustadtgödens se lewens te verander, is ‘n scenario geskep waarop die jonge Zirke Jansen sy finale besluit kon basseer. In konteks gesien was dit dus geen verassing toe Zirke tot die besluit gekom het dat daar vir hom geen toekoms in die vaderland was nie. Sy vader en stiefmoeder was waarskynlik teleurgesteld en verslae toe Zirke uiteindelik sy plan bekend maak om by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie aansoek te doen vir werk. Zirke het nie enige tyd verspeel nie en was spoedig op pad na die werwingskantore van die VOC in Harderwijk aan die Suidersee in Nederland.
Op 28 Desember 1752 bevind Zirke hom as lid van ‘n groep van sewe-en-sestig soldate aan boord van die “Huis te Manpad”, ‘n Oos-Indië vaarder, op ‘n vaart vanaf Texel na Batavia via die Kaap van Goeie Hoop. Presies twee maande en ses-en-twintig dae later, op 23 Maart 1753, meer die skip in Tafelbaai vas. Zirke stap hier aan wal en sou op 2 Oktober 1755 met die dogter van ‘n ander Duitse soldaat, Barend Buys, wat veertig jaar vroeër vanaf Braunschweich in die Kaap gearriveer het, in die huwelik tree. Op hierdie wyse sou Zirke die stamvader van ‘n nuwe familie van Jansens in ‘n nuwe vaderland word.
Zirke het hom as kleremaker gevestig en hy het druiwe op sy plasie Tuinland in Drakenstein, die teenswoordige Paarl, verbou. Hy en sy eggenote, Catharina Buys, het twee seuns en vyf dogters gehad.
Catharina het vir Zirke op 2 September 1772 ontval en hy self is drie maande later op 21 Desember 1772 in Drakenstein oorlede. Die verhaal eindig egter nie hier nie. Alhoewel Zirke en Catharina maar ‘n wyle in lewe in die Afrikaanse Suiderland vertoef het - die oudste van die sewe kinders was skaars sestien jaar oud toe beide hul ouers deur die dood weggeneem is – was die wortels van die jong boompie goed gevestig. Vanuit hul kortstondige lewensbestaan, die stam van die Suid-Afrikaanse Jansenfamilie, het twee magtige takke gegroei. Hierdie twee takke was die nageslag van Zirke en Catharina se twee seuns, Cornelis en Roelof. As lede van die vroegste pioniers aan die Kaapse Oos-grens, was beide betrokke by die vorming van ‘n nasie. Vanwaar die Sondagsrivier sy draai deur Graaff-Reinet maak en vanaf die vrugbare weidings van die Sneeuberg op pad na Middelburg in die Karoo, het hulle kinders en kinds-kinders oor die lengte en breedte van Suid-Afrika versprei. Vir tweehonderd-en-vyftig jaar sou hulle gedy en groei tot ‘n noemenswaardige deelversameling van die Afrikanervolk aan die Suidpunt van Afrika. Vandag vind ons afstammelinge van Zirke en Catharina Jansen op elke vasteland van die wêreld. Vanuit die Verenigde State van Amerika, Kanada, Europa, en Asië, tot in die verre suide in Australië en Nieu Zeeland leef hulle voort. Baie van hulle het lank reeds by taal en kultuur verby gegroei, maar die bloedverwantskap sal altyd staan. G.A. Watermeyer, Afrikaanse Digter vanuit die middel twintigste eeu, skryf so in sy Bundel, “Die Republiek van Duisend Jaar”:
Klein windgerigte Westerloot
Wat in die Suide stam kom stoot
Jy brei tot boom wat vrugte dra
Oor breër grond as Afrika …
Watermeyer het dit hier gehad oor die Afrikanervolk in ‘n gedig wat hy “Gestalte van my Volk” genoem het. Hierdie woorde kan egter net so wel van toepassing wees op die nageslag van Zirke, die seun van Cornelius en Trintke Marie Jansen van Neustadtgödens in Oos-Friesland, wat as 21-jarige jongman sy vaderland in 1752 verlaat het om hom aan die Suid-punt van Afrika te vestig.
SOLI DEO GLORIA!
Sonsondergang 2001.
Uitsig oor Tafelbaai vanaf Melkbosstrand.