Frederik Antonie (Ferdie) JANSEN is op 26 Junie 1949 in Phillipstown, Suid-Afrika gebore. Hy is die oudste seun van Frederik Antonie (Frikkie) Jansen en Charlotta Philippina (Phyllis) Venter van die plaas Bermuda in die distrik van Phillipstown, Suid-Afrika. Ferdie het sy skoolloopbaan in 1956 begin by die Sekondêre Skool Phillipstown. Hy het sy hoërskool opleiding in 1966 en 1967 voltooi by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein . In die daaropvolgende jaar, in 1968, het hy militêre diensplig verrig. Hy het opleiding as Sekerheids Wagbevelvoerder by die Lugmag Gimnasium in Pretoria ondergaan en diens gedoen by die Lugmagbasis Bloemspruit by Bloemfontein . Ferdie se tersiêre opleiding het in 1969 by die Universiteit van die Oranje Vrystaat begin waar hy as B.Sc. student ingeskryf het. Hy het egter in 1970 na die Universiteit van Stellenbosch verskuif waar hy 'n B.Sc. graad in Elektrotegniese Ingenieurswese verwerf het.


Ferdie en Elise BREYTENBACH is op 4 Januarie 1975 in die NG Kerk Touwsrivier in die Karoo getroud. Elise is op 7 Maart 1953 in Balfour in die destydse Transvaal gebore waar haar vader ( Wynand Breytenbach ) 'n onderwyser was. Haar vader en moeder ( Elizabeth Venter ) het eers na Vryburg in die Noord-Kaap verhuis voordat hulle hul op Touwsrivier gevestig het. Elise het in 1970 hier gematrikuleer en het daarna op Stellenbosch studeer, waar sy 'n B.Sc. graad en Hoër onderwysdiploma verwerf het. Haar onderwysloopbaan het in 1975 by die Hoërskool JG Meiring in Goodwood, Kaapstad, begin. Elise het vir 26 jaar by verskeie skole oral in Suid-Afrika Wiskunde en Natuur-en-Skeikunde onderrif. Ferdie en Elise het drie seuns, Frederik Antonie Jansen , Wynand Breytenbach Jansen en Johannes Venter Jansen . Hulle is respektiewelik op 1 September 1979 , 22 Junie 1981 en 24 April 1984 gebore.


Ferdie het sy loopbaan in 1976 by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens begin as 'n Sinjaal Ingenieur. Sy loopbaan het hom oor die lengte en breedte van Suid-Afrika geneem, vanaf Kaapstad, deur Beaufort-Wes, Vryheid, Johannesburg en tot in Oos-Londen. Hy het in 1995 as ingenieur bedank en die gesin het na Kaapstad verhuis om as kleinhandelaars 'n supermark te bedryf. Na verloop van twee jaar het Ferdie na die ingenieursprofessie teruggekeer. Vanaf 1997 tot 2000 het hy as projekbestuurder by 'n internasionale ingenieursmaatskappy in Johannesburg gewerk voordat Ferdie 'n aanbod gekry het om as konsultant by 'n maatskappy in Engeland te werk. In 2001 het Ferdie en Elise en hul jongste seun na Engeland verhuis. Elise werk as 'n Senior Versorger by 'n tehuis vir bejaardes en is 'n deeltydse lektrise by Solihull Kollege. Ferdie en Elise en hul jongste seun woon tans in Solihull, 'n dorpie buite Birmingham , in die Engelse Midellande.


Dit was in 1967, tydens sy laaste skooljaar in Bloemfontein , dat Ferdie in genealogie begin belang stel het. Die Jansen familie-register het in 'n skool oefeningboek begin nadat sy Oupa Frikkie tydens een van die skoolvakansies 'familie uitgelê' het in 'n gesprek waarby Ferdie teenwoordig was. Die onderwerp het hom gefassineer en hy het hierna nooit opgehou om inligting oor die familie in te samel nie. Dit was egter nie voordat hy agt jaar later met Elise getroud is, dat hulle met formele familie-navorsing begin het nie. Ferdie se eie tak van die Jansen-familie is vinnig voltooi en is deur die RGN in Pretoria gepubliseer as deel van hul publikasie, "South African Genealogies" (Heese en Lombard, Pretoria, 1992). Ferdie het sy versamelde genealogiese data in 1984 begin dokumenteer met die opstel van 'n lewensgeskiedenis van die stamvader. Hy het daarna nog vyf ongepubliseerde dokumente oor die Jansen Genealogie voltooi:

1.  " Jansen Stamregister" (Kaapstad, Januarie 1977).

2.  "Zirke Jansen" (Beaufort-Wes, Augustus 1984).

3.  "Genealogiese Kwartierstaat van Frederik Antonie en Anna Sophia Jansen"       (Benoni, Oktober 2000).

4.  "Die Nie-Europese Voorouers van Frederik Antonie Jansen & Anna Sophia     Jansen" (Benoni, Desember 2000).

5.  "Friesland , Land van Oorsprong" ( Solihull , Desember 2003).

6.  "Zirke Jansen: Stamvader van die Suid-Afrikaanse Jansen Familie"  
      (Solihull , Maart 2004).

7.  "Frederik Antonie Jansen: Jou Wortels" ( Solihull , April 2004).

Ferdie het ook 'n werkstuk, buite die konteks van die Jansen familie voltooi. Hierdie werk is deur die lewe en karakter van sy vrou se tannie, 'Suster' Breytenbach, reeds oorlede, geïnspireer:

8. "Die Memoirs en Ervarings van Johanna Susanna Breytenbach" (Benoni,      Oktober 2000).

Die geskiedenis van Roelof Andries Jansen, een van Zirke Jansen, die Jansen-stamvader, se twee seuns, en een tak van sy nageslag, sal in die volgende werk beskryf word:

9. "Die Voorouers van die Olievenfontein Jansens". Hierdie boek word tans      saamgestel.

Terselfdertyd, terwyl die gesin in Engeland woon, en met maklike toegang tot die argiewe van Engeland en Skotland, is Ferdie besig om die geskiedenis van Elise se enigste Britse voorvader, John Douglas, na te vors. John was die stamvader van die Douglas familie van Suid-Afrika. Elise se vader is 'n afstammeling van John Douglas, wat in 1817 as deel van die sogenaamde twee-honderd Moodie Setlaars by Swellendam gevestig is:

10. "Die Skotse erfenis van die Breytenbach familie van Suid-Afrika". Hierdie       boek word tans saamgestel.


Ferdie en Elise beplan om na hul huis in Melkbosstrand terug te keer wanneer hulle aftree.


.

free hit counter